27 November 2006

As dinge agteruitgaan, emigreer


Moedig jou kinders aan om te emigreer. Die redes is oral rondom jou te sien. Skole gaan agteruit. Misdaad ruk handuit. Die land word oorstroom deur arm immigrante wat net die sosiale probleme in die land vererger.

Klink dit nie bekend nie?

Dit is egter nie net in Suid-Afrika waar mense deesdae wonder of hulle moet bly of gly nie.

’n Voormalige Tory-parlementslid en junior minister in Margaret Thatcher se kabinet het pas die knuppel in die Britse hoenderhok gegooi met ’n boek waarin hy Britte aanmoedig om uit hul geboorteland pad te gee.

Hy sê die land is besig om uit sy nate te bars vanweë die instroming van immigrante van regoor die wêreld en die hele sosiale struktuur gaan binnekort in duie stort.

Die beste wat jong Britte kan doen is dus om pad te gee uit hul eie land.

“Hoekom praat niemand oor wat aan die gang is in ons eie land nie?” wil George Walden weet in Time To Emigrate?

“As ’n Engelsman nie meer die vryheid het om hardop en in alle eerlikheid te sê wat hy voor hom sien gebeur nie, wat is die punt daarvan om Engels te bly?”

Met die eerste oogopslag val Walden se idees op as buitensporig radikaal.

Walden is konserwatief met ’n hoofletter K, en in die beste Engelse polemiese tradisie is hy glad nie bang om ’n ding op sy naam te noem nie.

Hy ontken ten sterkste dat hy xenofobies of rassisties is, maar sê dis onmoontlik om die feit weg te redeneer dat Engeland onder geweldige druk verkeer weens die instroming van nuwe immigrante.

Kyk verby hierdie irritasies (en die knaende vermoede dat sy idees tog op niks anders as xenofobie neerkom nie) - en mens besef dat Walden tóg sy vinger op een van Brittanje se mees knaende probleme lê. Want ja, dié eiland het reeds hopeloos te veel mense met duidelike tekens dat die sosiale weefsel besig is om lelik uit te rafel.

Vlakke van wetteloosheid, dronkenskap en wat die Britte eufemisties beskryf as “anti-sosiale gedrag” is hoër hier as in enige ander land in wes-Europa. Spanning tussen Moslems en die res van die bevolking is op breekpunt. Hoe dan anders as sowat ’n derde van Britse Moslems glo dat verlede jaar se bomaanvalle op treine in Londen geregverdig was?

En moet nooit vergeet dat verlede jaar se bomplanters almal Britse burgers was nie – daarop uit om oorlog teen hul eie land te verklaar.

Om alles te kroon doen die Britse skoolstelsel niks om hierdie ongelykhede uit te wis nie. Terwyl die beste privaatskole al hoe beter word, ontvang die armes aan die ander end van die spektrum waarskynlik vandag ’n swakker opvoeding as 20 jaar gelede.

Tydens ons gesprek vroeër die week wys hy immigrasie as die groot sondebok uit. Immigrante is bereid om meer werk vir minder geld te doen. En alhoewel hulle op dié manier inflasie in toom hou, waarsku Walden dat dit ’n vals ekonomie is: die Britte is besig om tred te verloor met presies hoeveel mense in die land is en hul bevolking groei waarskynlik vinniger as die ekonomie.

Hy is egter genoeg van ’n pragmatis om te erken dat mens net die die stroom immigrante kan probeer minder maak – jy sal dit nooit heeltemal kan keer nie.

“Die skade is in elk geval reeds gedoen. Daar is klaar te veel mense in Brittanje – dit help nie ’n mens probeer nou iets daaraan doen nie.”

En immigrasie is nie net sleg nie. “Ek hou van die idee dat immigrante wat lus is om te werk ’n bietjie ons lui Engelse agterente kom skop.”

Die totale prentjie lyk egter té bedremmeld na sy smaak, sê hy. Behalwe vir ’n enkele dowwe liggie aan die einde van die tonnel.

“ ’n Mens kan nooit die moontlikheid buite rekening laat dat op een of ander tipies onbeholpe Engelse manier alles op die ou end tog sal uitwerk nie.”

Intussen is sy raad aan sy eie kinders egter eenvoudig. Vat jou goed en trek. Spanje, Kanada, Australië of Nieu-Seeland is almal goeie opsies. Maar hou jou opsies oop. Want wie weet, dalk werk dinge uiteindelik in Brittanje uit en wil jy terugkom.

Klink bekend, nie waar nie?

  • Hierdie rubriek het die eerste keer in Rapport op 26 November verskyn.

1 comment:

gv said...

Hier oorkant my (ek woon in Engeland), woon 'n onderwysers-egpaar wat knaend geterroriseer word deur jeudiges. Bv hul motor word gevandaliseer, of 'n baksteen word deur hulle voorruit gegooi - sommer so in die vroeg-aand, en as hulle uitkom dan sit 'n groep jonges reg oorkant in die park en kyk. Hulle het nie bewyse dat dit daardie jonges is nie, maar al is dit nie, moes daardie tieners gesien het wat gebeur. Nogtans kan die polisie niks doen nie, en niemand kan blykbaar die probleem oplos nie.