30 October 2006

Sy het gekom, gesien en liederlik gefaal


Sy het haar gehoor verveel, beledig en hul intelligensie onderskat. Nie sleg vir die land se hoof-diplomaat nie.

Was dit ’n minister van Kazakstan of Gambië, ’n land ver op die gesigseinder waarvan jy nog net vaagweg gehoor het, sou jy jou hande in die lug kon gooi en dit aflag.

Maar dit is nie.

Die diplomaat is haar eksellensie, die Suid-Afrikaanse minister van buitelandse sake, dr. Nkosazana Dlamini Zuma.

Die plek: die London School of Economics, waar Dlamini-Zuma gevra is om te praat oor die toekoms van die Verenigde Nasies – ’n lesingreeks wat beplan is rondom die 60ste bestaansjaar van die organisasie.

Suid-Afrikaners het in die laaste paar jaar gewoond geraak – miskien té gewoond geraak – aan ’n gulle ontvangs in Londen. Probeer maar net onthou hoeveel keer Londenaars Trafalgarplein volgepak het om vir Nelson Mandela te sien.

Enigeen wat twyfel dat dié euforiese post-94 dae vir goed verby is, moes Woensdagaand in die ou ouditorium van die LSE gewees het.

Met die charisma van ’n lykbesorger op Valium het Dlamini-Zuma die gehoor geamuseer en verveel.

Die professors en studente in internasionale politiek het gekom om te hoor wat die minister te sê het oor die rol wat Suid-Afrika vir homself sien as pasverkose lid van die VN se veiligheidsraad.

Wat hulle gekry het, was ’n langdradige lesing oor die geskiedenis van die stryd teen apartheid en die VN, ’n toespraak waarin sy lang uittreksels uit die aanhef van die VN se stigtingsakte gelees het.

Binne minute nadat sy begin het, het ’n paar Zimbabwiërs opgespring om haar te onderbreek. Vir ’n paar minute was daar hogere drama – veral toe Peter Thatchell, ’n Londense aktivis wat gereeld in die voorste linies van menige menseregte-betogings gesien word, tot op die verhoog langs Zuma gevorder het.

Nadat Thatchell met geweld uit die saal geboender is, is Dlamini-Zuma toegelaat om voort te draal. Elke paragraaf gepunktueer deur ’n diep sug asof sy wil sê: Die enigste mens meer verveeld met hierdie toespraak as julle, is ek.

Genadiglik raak selfs die swakste toespraakskrywers se ink uiteindelik op en was daar ’n paar minute vir vrae.

“Met die hulp van die VN het dit die ANC 40 jaar geneem om Suid-Afrika te bevry,” het die eerse vraesteller opgemerk. “Beteken dit dat dit Zimbabwe en die mense van Darfoer ook 40 jaar moet wag?”

’n Tweede was verbaas dat die minister geen melding gemaak het van Vigs in haar toespraak nie, gegee dat dit een van die wêreld se grootste krisisse is. Het dit iets te doen met die feit dat haar eie president ontken dat daar iets soos Vigs bestaan?

Enige pertinente antwoorde op dié kwessies het verlore gegaan in ’n see van ideologiese clichés waartydens Dlamini-Zuma ook die tyd gevind het om ’n lid van die gehoor die kop te was omdat hy dit durf waag om sy kop te skud omdat hy nie met haar weergawe van die werklikheid saamstem nie.

’n Ander vraag oor die hoeveelheid wapens wat Suid-Afrika verkoop, is beantwoord met die absurde stelling: “Ons verkoop nie wapens wat in ’n konflik gebruik kan word nie.” Terwyl die gehoor skater laat ’n paar Suid-Afrikaanse diplomate in die gehoor hul kop in hul hande sak…

Toe die soveelste Zimbabwiër opstaan om haar te kritiseer oor Suid-Afrika se onvermoë om hulle by te staan in hul uur van nood, het haar geduld begin opraak.

“Julle Zimbabwiërs sit hier in Londen en doen niks aan die situasie in julle eie land nie,” begin sy preek. ’n Koor van protes klink op. Die ironie gaan nie by die Zimbabwiërs verby nie – Dlamini-Zuma het immers self as banneling in Brittanje studeer.

“Ek dink ons het die punt van krimpende opbrengste bereik,” sê Howard Davies, die voorsitter en direkteur van die LSE, en beëindig verrigtinge.

Na afloop van die vergadering vertel ’n joernalis van die BBC se internasionale diens dat hulle vir dae lank probeer het om ’n onderhoud met die minister te kry terwyl sy in Londen is. Verslaggewers van SkyNews en Radio 4 se Today nuusprogram – een van die mees gerekende aktualiteitsprogramme ter wêreld – was ewe onsuksesvol.

“Ek het gekom, ek het gesien, ek het oorwin,” was Julius Caesar se selfvoldane boodskap aan die senaat na sy oorwinning in die Slag van Zela.

Ek wonder wat die Latyn sou wees vir “ek het liederlik gefaal”?

  • Die rubriek is vir die eerste keer in Rapport gepubliseer op 29 Oktober 2006.

1 comment:

Anonymous said...

Hey, while searching for widgets for my blog, I stumbled upon www.widgetmate.com and wow! I found what I wanted. A cool news widget. My blog is now showing latest news with title, description and images. Took just few minutes to add. Awesome!