08 October 2006

Slegte wyn is ’n teken van onheil


Die stuk beesvleis wat die kelner in die Pique Boeuf voor my neersit lyk nie net heerlik nie, dit smaak ook vorentoe.

In dié geweste slag die Franse ’n groot bonkige wit bees, charolais boeuf, vir hul aandete. En net soos Leipoldt oor een van sy gunsteling Afrikaanse disse gesê het, verklaar die mense van Boergonje ook oor hierdie bees: Dis die lekkerste vleis wat tande kan kou.

Vir my voorgereg het ek een van dié geweste se ander gunstelinge weggepak: Oeufs en meurette – ’n geposjeerde eier in rooiwynsous.

Weet nie of dit die ryke spyse by die Pique Boeuf of die heerlike rooiwyn van die Beaune-omgewing was nie, maar daardie aand dra ’n paar vriendelike vriende my op ’n draagbaar terug na die hotelkamer en lê my saggies neer.

Teen nege-uur die volgende oggend lê ek steeds in staatsie met my hande oor my maag gevou. Omgeef deur harde sponskussings terwyl ’n menige droewige Franse meisies oor my lyk kom rou.

Die skril tjier-tjier van die telefoon ruk my terug na die hede. Dis vriend Emile wat my geirriteerd herinner aan ons volgende afspraak en ’n paar minute later sit ek in sy motor op pad na wynmaker Clive Torr.

Clive is in die Kaapse wynkringe bekend as die voormalige wynmaker van Villiera. Deesdae maak hy wyn op ’n veel, veel kleiner skaal in sy garage in Somerset Wes. Kort voor die Franse winter verkas hy na die dorpie Beaune in Boergonje waar hy ’n paar rye wingerdstokke besit waarvan hy elke jaar ’n paar vaatjies Pinot Noir in die ware Boergondiese styl maak.

’n Liefdestaak, noem hy dit. ’n Stokperdjie, alles net vir sy plesier.

So verwyl ons die oggend deur te praat oor wyn en Boergonje, liefde en lekker, honger en dors. Maar veral oor laasgenoemde.

“Kom ons gaan eet,” sê Clive.

“Waar?” vra Emile.

“Het net die plek,” sê Clive.

“Maar waar?” vra Emile.

In die Café de France sit die manne breedgeskouerd sy aan sy aan lang tafels.

Dié onpretensieuse interieur is ligjare verwyder van die effens selfvoldane atmosfeer van die Pique Boeuf die vorige aand.

Dis die gunsteling eetplek van die streek se vragmotorbestuurders, verduidelik Clive die sterk manne se teenwoordigheid terwyl ons na ’n tafel soek.

Clive sê hy is ’n onbeskaamde estetikus en kies sjefs op voorkoms alleen.

“Die reël is eintlik heel eenvoudig. Moet nooit ’n maer sjef vertrou nie.”

Löic en sy suster Christelle – die effens stugge eienaars van Café de France, stel nie teleur nie. Nie wat hul kulinêre vermoëns óf die omtrek van hul middellywe betref nie.

Die spyskaart is so onpretensieus soos die dékor. Jy eet wat jy kry en daarmee basta.

Vanmiddag is dit ’n kaaspastei met koolslaai vir voorgereg en gerookte varkwors, aartappel en roomsous vir ’n hoofgereg. Alles vir ’n baie billike €10,50.

Die hoogtepunt van die maal is egter ’n liter vin de table, ’n onpretensieuse rosé met die fênsie naam Perle de Vigne. Dié een is soos die weduwee se kruik – bodemloos. As hy leeg is sit Löic nog een op die tafel neer.

Na ete word ’n kaasbord van tafel na tafel aangestuur. Teen die tyd dat die bordjie by ons kom is die meeste van Löic en Christelle se kliënte terug agter die stuurwiele van hul Renault vragmotors, maar Clive sê daar is nog een belangrike ritueel om te volvoer.

Enige Franse vragmotorbestuurder wat sy sout werd is, sluk na ete eers ’n dop van die plaaslike blits om die ingewande te reinig voordat hy agter die stuur van sy groot trok spring om die Franse hoofweë te gaan pakgee.

Die Marc de Borgogne, sê Clive, word gestook van die doppe en ander keldervullis wat hulle sommer na parstyd met ’n bulldozer op ’n groot hoop stoot.

Die geil mengsel van doppe, grond en hidroliese olie word aan die regering oorhandig wat volgens wet die enigste is wat dié drank mag stook.

Voor jy kan sê stookketel sit elkeen van ons met ’n glasie van dié petrol in die hand om die koffie meer draaglik te maak.

Met ’n Marc in die hand oorleef ek nóg ’n Franse ontbering en ’n paar uur later is ons terug by Clive se garagekelder teen die heuwel bo Beaune. Clive is hard aan die werk om sy 2006 Pinot Noir gereed te kry vir die vat voordat dit tyd is vir hom om terug te vlieg Suid-Afrika toe.

Deel van dié voorbereidings behels ’n ritueel waarin ’n beker vol rooiwyn hemelwaarts geskiet word as ’n soenoffer aan Bacchus.

Waai dit in jou gesig terug, het jy probleme, sê Clive. Dit beteken Bachus is ontevrede en die wyn is sleg.

En slegte wyn is ’n teken van onheil vir almal van ons.

In die Pique Boeuf én in die Café de France.

  • Hierdie rubriek is vir die eerste keer in Rapport gepubliseer op 15 Oktober 2006.

No comments: