02 October 2006

Arm was ek gister, maar in Oktober is ek ryk


Dis al weer Oktober.

Uit die foto’s wat my vriend Andrew uit die Hantamwyk aanstuur, is dit duidelik dat Oktober in daardie geweste weer die mooiste, mooiste maand denkbaar is.

Dan is die dag so helder,

So groen is elke aand.

Ek dink die mense vier vir ewig in die hemel

Oktobermaand soos hier!

In Londen sukkel ek om Leipoldt se Hantam-Oktober met die kruipende winter van die noordelike halfrond te versoen.

Hierdie is egter nie ’n weeklaag oor die bittere Engelse weer nie. Inteendeel, soos ek hier sit en skryf, is dit ’n lieflike, soel herfsdag daarbuite. Die noordelike halfrond se seisoenwisselinge is ’n openbaring vir ’n Afrikaan wat net die twee seisoene van winter en somer ken. Hier gee die somer vir weke en maande langsaam boedel oor aan die koue en nat winter – asof om jou geleidelik voor te berei op die donker Kersfees wat kom.

Die seisoene gee ook hier die pas aan vir die alledaagse lewe op ’n manier wat ’n mens selde in Suid-Afrika ondervind. Daarom verwys die koerante na iets wat “volgende somer sal gebeur” of hou politieke partye hul “herfskonferensies”, soos tans aan die gebeur is.

Lente is ’n seisoen van opgewondenheid en afwagting – nie net vir tuiniers en verliefdes nie, maar ook vir politici, sakemanne en sportlui. Die gevoel van optimisme en hoop is tasbaar van die oomblik dat Europeërs hul horlosies een uur terug draai op die laaste Sondag van Maart.

Daarna volg die frenetiese somer, ’n paar maande van wonderlike lang somersdae wat eers hier teen 10-uur in die aand hul fut verloor en waarin almal probeer om in ’n helse gejaag soveel as moontlik uit die lewe te haal voordat die winterkoue toeslaan. Geen wonder dat ’n mens teen Septembermaand heeltemal uitgeput is nie en uiteindelik die korter wordende dae en koeler aande begin verwelkom nie. Dit gee jou tyd om te reflekteer op wat verby is, te besef hoeveel jy nóg wou doen en, veral, hoe armsalig kort die lysie is van dit waarvoor jy wel tyd gekry het.

Daarom is Oktober hier, net soos tuis, die tyd vir die ou versugting: “Kyk, dis amper al weer Krismis. Kan jy glo die jaar het so vinnig gevlieg?”

As ek op die jaar terugkyk, doen ek dit egter deur ’n nuwe bril.

Die afgelope week was dit presies 13 maande gelede dat ’n jong erfgenaampie in ons huis gearriveer het. Hy is kort vóór ons verlede Desember Londen toe verhuis het, in Kaapstad gedoop na sy oupa, Henri. Destyds was hy ’n stil en stemmige outjie. Hy aard na sy pa, het ek graag gespot: Hy hou van sy dop en daarna wil hy net uitgelos wees om te slaap.

Intussen het dinge effens verander.

Nou vind ek my dikwels op my knieë – nie die metaforiese knieë waaraan my skoonma my gereeld herinner nie, maar al kruipende agter ’n jonger weergawe van Osama Bin Laden. Altyd buite bereik en op pad na sy volgende missie van massavernietiging.

Hoe het dit gebeur dat dié outjie wat ek minder as twee jaar gelede vir die eerste keer as ’n kolletjie so groot soos ’n ertjie op ’n rekenaarskerm in ’n dokterspreekkamer gesien het, verander het in ’n terroris? (’n Terroris wat, soos ek hier skryf, langs my staan en pas my telefoon as ’n moontlike teiken vir verwoesting geïdentifiseer het?)

Op die oomblik kuier die twee-jarige Nina saam met haar ouers by ons.

Nina leef , net soos ek, in vrees vir Osama Bin Laden die jongere. As hy op haar afstorm om haar hare te trek, is haar vrees ook myne. Ek weet waardeur sy gaan.

Toe ek Nina ’n bietjie minder as ’n jaar gelede laas gesien het, het sy taamlik stom op die grasperk van my huis in Westdene in Johannesburg gesit.

Nou is sy in staat om haar vrees vir Osama in die mooiste Afrikaanse volsinne te verbaliseer.

Dis aan Nina en die klein kwaadstoker te danke dat ’n jaar skielik vir my veel meer beteken as die dralende opeenvolging van vier seisoene – selfs al is daardie seisoene so wonderlik gedefinieer as hier in die noordelike halfrond.

In die tyd wat dit geneem het vir vier seisoene om soomloos oor te gaan in die volgende, ’n tyd waarin die meeste van ons nie veel meer kon doen as besef hoe vinnig tyd vlieg nie, kon Nina haar eerste taal aanleer.

Haar nemesis kon vorder van ’n papie wat hulpeloos in sy ma se arms lê tot die Bin Laden van Kensington.

Dis klein lessies soos dié wat jou laat besef wat die klein terreursoekertjie hier op aarde doen – behalwe natuurlik om studeerkamers te verwoes en luidkeels te protesteer as sy ma hom verbied om seepwater uit ’n nat mop te suig.

Wat my laat dink aan ’n ander Leipoldt versreël:

Arm was ek gister,

maar nou is ek ryk

Nou skatryk

  • Hierdie rubriek het vir die eerste keer in Rapport verskyn op 1 Oktober 2006. Andrew Ingram se Namakwalandfoto's is by www.andrewingram.co.za

No comments: