19 September 2006

Oor prinse wat rokke dra, die bodhrán en mense wat fietswiele vir drankies neem

Sandy Bell’s, sê my gidsboek, was die gunsteling watergat van Hamish Henderson, die Skotse digter, liedjieskrywer en kenner van Skotse volksgeskiedenis en -musiek.

Van dié man het ek nog nooit gehoor nie, maar die snippertjie inligting is genoeg aanmoeding en ek sit laat een aand af na Forrestweg in Edingburgh se “ou stad”, op soek na dié kuierplek.

Die kroeg is helder verlig met 100 watt gloeilampe wat genadeloos uit die dak neer brand. Ek dog eers dis toemaaktyd en dat die ligte reeds aangeskakel is om die laaste kliënte aan te moedig om hul biere te sluk en te laat spaander.

Gelukkig huiwer ek lank genoeg in die deur om te besef dat niemand besonder haastig is nie – die mense hier hou blykbaar van hul kroeë helder en lig.

Die Skotse rookwette beteken ook dat daar nie eers ’n krulletjie sigaretrook te bespeur is nie, die algehele antitese dus van ’n donker, rokerige pub.

’n Pint asseblief, sê ek in my beste Skotse Engels terwyl ek my agterent inskuif op die gladgesitte houtstoeltjie.

Terwyl ek met genoegdoening sit en kyk hoe die troebel ale wat die kroegman voor my neersit stadig van onder af ophelder en amberkleurig word begin ek rondkyk.

In die hoek sit ’n paar mense en musiek maak. ’n Blonde meisie met ’n klokhelder sopraanstem is besig met ’n keltiese lamentasie waarvan ek die woorde glad nie kan volg nie. Dit het ’n herhalende, amper hipnotiserende ritme en laat jou, soos ’n vriend van my graag opmerk, verlang na plekke wat jy nie eers geweet het bestaan nie.

My gids had dus reg. Sandy Bell’s is dié plek in Edinburgh vir volksmusiek, ale en bier. Daar is slegs ’n paar toeriste onder die kliënte – baie van hulle vergesel van hul Skotse gashere.

Een so ’n besoeker kom staan langs my en vra vir “just a regular Scotch”. Die kroegmeisie kyk hom met ’n meerderwaardige uitdrukking aan, steek dan albei wysvingers in die lug terwyl sy na die rakke agter haar kop beduie asof om te sê: “Which regular whisky do you mean?”

Ek dink haar gedrag is onnodiglik snooty, maar dan moet ek toegee dat sy dalk ’n punt beet het. Agter haar staan daar 31 verskillende soorte whiskies – en dit sluit die bottel Amerikaanse Jack Daniels uit.

Die oorblufte besoeker besluit uiteindelik op die “malt of the moment”, Auchentoshan.

Ek spaar myself die vernedering om deur die blik van die kroegmeisie verinneweer te word en bly van die whiskies weg. Ek vra liewer vir nog ’n Director’s Bitter.

Die Skotte en die Afrikaners het baie in gemeen, vertel die Director my.

Ons is nie vreeslik lief vir die Engelse nie, ’n wrok wat ons van die jaar toet af koester en met minder of meerdere sukses aan die lewe hou ten spyte van die feit dat ons nie werklik sonder mekaar kan klaarkom nie.

Albei nasies het ook ’n puriteinse streep weg en vind graag toevlug in ’n stroewe protestantisme waar pret en die duiwel sinoniem met mekaar geword het.

En terwyl ek die troepie musikante in die hoek van Sandy’s sit en bekyk, besef ek ook: ons en die Skotte is die enigste mense wat dink ons eie volksmusiek is mooi.

Want as ’n viool skreeu soos hy nou daar skreeu, sal ’n Skot ’n helse lang aand nodig hê om my te oortuig dat hulle nie ’n nasie van toondowes is nie.

Dis soos boeremusiek op steroïde, as jy weet wat ek bedoel. Gee my enige dag eerder die waterpomp drietyd van die Hartseerwals as hierdie frenetiese gejaag sonder enige identifiseerbare melodie.

Maar hier lê die knoop. Na ’n paar slukke begin my voete onwillekeurig ritmies klop op die maat van die trekklavier en viool van die groepie in die hoek.

Teen die tyd dat die kroegman die derde bitter tap, raak ek selfs liries oor die akkerhouthandvatsel waaraan die kroegman trek om die amber bier uit die vat uit op te trek!

In die wit kringetjies wat die bier op die glas agterlaat soos die inhoud al laer sak kan ek tel presies hoeveel slukke al in my keelgat verdwyn het. Op die Direkteur se bevel klap ek geesdriftig hande vir ’n encore terwyl die trane van heimwee en nostalgie in my oë opdam.

Die allure van die kilt laat my wens dat ek ook ’n Skot was en ek verstaan vir die eerste keer waarom ’n oënskynlike waardige man soos Prins Charles in ’n rok paradeer – ten spyte van die feit dat sy familiewortels in Duitsland lê en die familie minder as 300 jaar gelede nie eers kon Engels praat nie.

Terwyl ek geesdriftig op die maat van die leersimbaal, die bodhrán, hande klap, wonder ek hoe ek ooit kon twyfel aan die Skotte se musieksmaak.

So meegevoer raak ek dat ek nie eers die jong man oplet wat langs my kom staan en ’n bier bestel nie. Maar terwyl die musikante ’n blaaskans neem, kyk ek hom versigtig deur en neem dan die laaste teug van my bier en begin aanstaltes maak om Sandy Bell’s vaarwel te roep.

Want om van die Skotte en hul musiek te begin hou is een ding, maar om te begin glo dat dit normaal is om jou fietswiel vir ’n drankie te neem – soos dié ou besig is om te doen – is om die Skotse ervaring heeltemal te ver te neem.

  • Hierdie rubriek het vir die eerste keer in Rapport verskyn op 17 September 2006.

No comments: