16 August 2006

My ouma kan wragtig beter doen as dit

Het jy al ooit die gevoel gehad dat die hele wêreld besig is om gek te word en jy is die enigste gesonde van gees wat op die planeet agtergelaat is?

Glo my, dit is ’n erg ongemaklike situasie en indien jy nie bitter vinnig ’n mede-reisiger kan vind wat met jou saamstem oor die stand van die heelal nie, loop jy die gevaar dat iemand jou in ’n japtrap by groendakkies inboek.

So loop ek nou al geruime tyd met die vermoede dat die mense rondom my aan ’n verstandstoornis ly en dat ek die enigste een is wat besef dat baie restaurateurs besig is om ons ’n rat voor die oë te draai.

Dit het begin as ’n vae ongemaklikheid, maar na ’n onlangse besoek aan ’n Turkse eetplek suid van die Teems is daar by my geen twyfel meer dat hierdie keiser poedelnaak is nie – al sê die res van die wêreld ook wat.

Die atmosfeer by EV (wat vir ’n naam is dit in elk geval vir ’n eetplek?) is modieus dog gemaklik. Die spyskaart indrukwekkend in omvang met disse waarvan die name jou laat droom van plekke meer kleurvol en sonnig as Londen.

Toe my beurt kom om te bestel druk ek soos ’n stomme met my voorvinger op iets met die naam Kul Basti – ’n gereg wat die spyskaart beskryf as ’n geroosterde lamsfillet met origanum.

’n Kwartier later daag iets op wat ek eerder sou beskryf as geroosterde karton met klonterige kapokaartappel.

Die karton het gesmaak soos, wel, soos karton. Baie smaaklik as jy lief is vir karton. Hoe die aartappel gesmaak het sal ek nie kan sê nie. Ek’s jammer. Na die karton het ek besef dat ’n Kul Basti nie eintlik met my akkordeer nie.

Die werklik verbysterende deel van my verhaal het ek egter nog nie vertel nie.

Pleks daarvan dat gesofistikeerde Londenaars hul rug draai op ’n eetplek wat geroosterde karton en klonterige aartappel weggee teen £8,85 ’n bord (ja, dis nie ’n setfout nie – die gereg het R113,46 gekos), doen hulle presies die teenoorgestelde. Hulle stroom daarheen.

Die tydskrif Time Out verklaar “die innoverende, moderne Turkse kos is smaaklik, verbeeldingryk en goed geprys”.

Nou toe nou. Ek besef die ou van Time Out het die reg op ’n eie mening, maar wragtag, vryheid van spraak het darem ook sy perke.

Net toe ek begin wonder of dit nie dalk ék is wat die kluts kwyt is nie, loop ek die afgelope week ’n boek raak wat pas hier verskyn het.

Bad Food Britain – How a Nation Ruined its Appetite laat my besef dat ek genadiglik nie die enigste mens is wat ongemaklik is oor alles wat in die Britse kombuis gebeur nie.

Die skrywer Joanna Blythman sê die probleem met die Britte is dat hulle dit nie geniet om te eet nie. En sy behoort te weet – sy is een van die land se bekendste kosskrywers.

Sy sê die gemiddelde Brit eet omdat hy sy tenk weer vol petrol moet maak. Dit is deel van die dag se roetine, soos om toilet toe te gaan. ’n Mens eet nie vir plesier nie.

Die mediabeeld van Londen as ’n stad wat deesdae spog met van die beste restaurante ter wêreld is erg oordrewe, voer sy aan.

Ja, daar mag ’n paar uitstekende restaurante wees, maar die oorgrote meerderheid Britse restaurante is steeds vreeslik vrot. (As jy hieraan twyfel, kyk bietjie na Ramsay’s Kitchen Nightmares, ’n televisieprogram waarin die sjef Gordon Ramsay wys wat in die kombuise van sommige Britse restaurante aangaan.)

Die feit dat televisiesjefs soos Jamie Oliver en die sensuele Nigella Lawson huishoudelike name in Brittanje is, word dikwels voorgehou as bewys dat die Britte’n nuutgevonde liefde vir die kombuis ontwikkel het.

Alles twak, sê Blythman. ’n Kwart van alle Britse huishoudings het nie eers meer ’n tafel groot genoeg vir die hele gesin om by te eet nie.

Sy vertel die storie van ’n groot behuisingsmaatskappy in die noordooste van die land wat ’n skema het waarby kliënte na ’n paar jaar hul huise kan “inruil” vir ’n nuwe groter huis.

Die maatskappy was verbaas om te vind dat die oonde in baie van hul kliënte se eerste huise nooit gebruik is nie. Hoe het hulle dit agtergekom? Die hoe-werk-die-oond-boekie was nog in sy plastieksakkie binne-in die oond!

Hierdie treurige verhale oor die benarde situasie van die Britse gesinsmaaltyd het my laat dink aan ’n opmerking van die Suid-Afrikaanse baaskok, Ina Paarman.

In ’n toespraak voor ’n klomp studente-sjefs in Stellenbosch ’n paar jaar gelede het sy gesê dat ’n land se restaurantbedryf afhanklik is van die kwaliteit van die etes wat tuis voorgesit word.

Jou ma of jou ouma se kos stel die standaard waaraan jy die wêreld se sjefs meet en niemand behoort te betaal vir kos wat nie hieraan voldoen nie.

Gemeet aan die standaard van die kos wat in menige Britse restaurant bedien word, het die gemiddelde Britse ouma ’n paar dingetjies om te verduidelik.

Was grannie se kos dan só sleg dat baie Britse restaurante daarmee wegkom om voorafvervaardigde etes in die mikrogolfoond warm te maak?

En voor iemand my van kulinêre chauvinisme beskuldig: ek weet van ’n paar Suid-Afrikaanse eetplekke waar dit nie veel beter gaan nie.

Maar anders as die Britte kan ons hopelik ’n stuk karton in ons bord herken – alles te danke aan die voorbeeld wat Ouma gestel het.

No comments: