07 June 2006

’n Ou rusbank net soveel werd as ’n leë blik

Met die Sokker Wêreldbeker en die Springbokke se toetsseisoen wat hierdie naweek begin het, is dit seker veilig om te verklaar dat die rusbank nou die gunsteling meubelstuk in menige huishouding geword het.

Ek weet nie of die volgende stukkie statistiek die invloed van die Wêreldbeker in berekening gebring het nie, maar ek lees die ander dag dat die Britse publiek in die volgende jaar ’n kwartmiljoen sitkamerstelle gaan koop teen ’n gemiddelde prys van R18000. Dit is ’n ongelooflike R4,5 miljard se rusbanke!

Soos almal van ons wat al ooit ’n rusbank besit het goed weet, is dié meubelstuk ’n bietjie soos elektrisiteit. Sodra jy dit het gaan ’n hele klomp ander lewensmoontlikhede vir jou oop.

Met ’n rusbank in die voorhuis kan mens sit. En dink. Soms, soos die ou storietjie lei, sit ’n mens net.

Maar na ’n tydjie raak selfs sit ’n bietjie vervelig. Vir tye soos dié – veral op ’n Satermiddag in die middel van die rugbyseisoen – is ’n televisiestel nogal heel handig.

As daar enigeen is wat nog twyfel oor die verband tussen die televisie en die rusbank, het ek die volgende stukkie statistiek opgespoor: Die gemiddelde Brit kyk elke dag vir 2 uur en 48 minute lank televisie.

Dit beteken dat meneer en mevrou Gemiddeld van Birmingham teen die tyd dat hulle 75 jaar oud is ’n totaal van 12 jaar van hul lewe voor die kassie deurgebring het – presies dieselfde hoeveelheid tyd wat die gemiddelde Brit op die rusbank sit!

Rusbanksit en televisiekyk is dus aan mekaar verwant soos bier en braaivleis. Die een kan beswaarlik sonder die ander.

(Ek wonder hoe lank dit ons oom in die meubelhandel gaan neem om twee en twee bymekaar te sit en vorendag te kom met ’n teevee-and-settee special. Koop ’n televisie en kry ’n Gomma-Gomma gratis…)

Die Britte se voorliefde vir die couch and telly het egter ’n diep en donker skadukant.

Die Daily Telegraph, onder die opskrif “Give us the cheapest seats in the house”, skryf onlangs dat die gemiddelde Brit sewe sitkamersofa’s in sy lewe deursit.

En as die Britte vanjaar 250 000 sitkamerstelle gaan koop, kan ’n mens seker aanvaar dat net soveel ou en afgeleefde settees op die ashoop gaan beland.

Twee jaar gelede het Brittanje 434 miljoen ton gemors weggegooi en elke Brit gooi elke jaar sewe keer sy eie liggaamsgewig se rommel in die asblik.

Waar gaan dit alles heen? Het die Britte vergeet hulle sit op ’n eiland en het nie onbeperkte spasie vir al die gemors nie? Hoe lank gaan dit wees voor die eiland uit sy nate begin bars en stadig begin groter word – ’n stadig fermenterende, rysende rommelhoop?

Sedert ek ’n paar maande gelede in Londen aangekom het, is ek getref deur die absolute dekadensie van die eerste wêreldse weggooi-kultuur.

Wat my veral getref het, is hoe vinnig mens die slegte gewoonte aanleer en begin om lustig mee te doen.

In die kort bestek van ses maande het ’n uitgediende tafel, matrasse en selfs beddens uit my huishouding op die ashoop beland. Tot my skok het ek agtergekom dat daar heel doenlike huisware is waarvoor selfs die welsynsorganisasie Oxfam hulle neuse optrek.

Telkens vra jy jouself die vraag: Is daar dan niemand in hierdie land wat ’n nut het vir dit wat ek nou weggooi nie?

Kom ons noem dit die teenstrydigheid in die Suid-Afrikaanse psige. By die huis voel jy skuldig dat daar mense is wat self so min het dat hulle van ander se weggooigoed ’n bestaan moet maak.

Maar in plaas daarvan dat ek nou heimlik verlig is dat ek in ’n land bly waar selfs die armstes nie eintlik ’n nut het vir my rommel nie, voel ek steeds skuldig dat ek iets weggooi wat ander nog kan gebruik.

Is dit hierdie skuldgevoel wat my dryf om elke oggend pligsgetrou my oranje sakkie met herwinbare vuilgoed saam met ’n swart sak “onherwinbare” vullis voor my deur te sit? Ek let op dat geen van my bure dit doen nie en ek neem aan dat hulle glad nie aan dié rommelskuld lei nie.

Ek besef nou eers dat ons Suid-Afrikaners ’n wonderlike rekord het as dit by herwinning en hersirkulering kom.

Behalwe vir die feit dat dit ondenkbaar is om in Suid-Afrika ’n werkende televisiestel of rusbank na die rommelhoop te verban sonder om eers vir ’n nuwe eienaar te soek, is ons ook voortreflike herwinnaars van tonne ander weggooigoed.

Dink maar aan die duisende werkloses wat ’n lewe maak uit die verkoop van afvalkarton. Of die talle skole, kerke en hospitale wat ’n ekstra geldjie maak deur enigiets van leë blikke tot ou tydskrifte, papier en glas bymekaar te maak.

Natuurlik wil ’n mens hê dat Suid-Afrika ’n land word waar alle mense ’n dak oor hulle kop het en ’n werk wat hulle genoeg betaal om vir hulle ’n rusbank te koop sodat hulle soos die res van die wêreld voor die televisie kan gaan lê as hulle saans moeg van die werk af kom.

Ek wens net daar was ’n manier waarop ’n mens kan verhoed dat ons land in die proses soos Engeland word waar die gewoonte om ou goed weer te gebruik in die slag gebly het.

Want soos menige mens in Suid-Afrika weet, ’n ou rusbank kan net soveel werd wees as ’n leë blik.

No comments: