27 June 2006

Jake White se morele kompas kort kalibrasie

Ek dink Jake White se morele kompas moet ’n bietjie gekalibreer word en hy hoef nie veel verder as die wêreld van sokker te soek vir leiding in dié verband nie.

Volksblad se Hendrik Cronjé skryf verlede week dat die Springbokafrigter besig is om druk te plaas op sy base by SA Rugby om sy kontrak te hernieu voor die afskop van vanjaar se Drienasies.

White sê dat hy besig is om “verskeie aanloklike aanbiedinge van oorsee” te oorweeg.

Ek weet die verskoning is dat rugby deesdae professioneel is en dat White, as beroepsafrigter, na sy eie finansiële toekoms moet kyk.

Is dit so eenvoudig soos dit? Of het Mammon nou die spelreëls só herskryf dat dit moontlik is om sommer in die middel van die game gat om te swaai om vir die ander span te gaan speel?

Dank die sportgode dus vir ’n man soos Luiz Felipe Scolari, die Brasiliaan wat deesdae die Portugese sokkerspan afrig.

Scolari is een van die mees suksesvolle afrigters in die sokkerwêreld en het in 2002 die Brasiliaanse span afgerig wat die Wêreldbeker gewen het. In Brasilië ken hulle hom as Felipão – Groot Phil.

Die Engelse Voetbalvereniging (FA) het hom tot onlangs in die oog gehad om die Engelse nasionale span ná afloop van die Wêreldbeker onder hande te neem.

’n Paar weke gelede – nog voordat die Wêreldbekertoernooi begin het – het hulle hom met ’n kontrak genader, maar Scolari het op die laaste nippertjie kop uitgetrek.

Waarom? Vir weke was dit een van die groot geheime van die Engelse sportwêreld. In ’n onderhoud met die BBC verlede week het Groot Phil egter uiteindelik die haas uit die hoed gelaat waarom hy nie bereid was om die aanbod te aanvaar nie.

Die antwoord is eintlik heel eenvoudig, het hy verduidelik. Die Engelse wou hê hy moes hom voor die Wêreldbeker verbind tot ’n afrigterspos wat hy eers na afloop van die toernooi sou bekleë.

“Hoe kon ek dit doen?” wou hy weet. Wat sal die Portugese sokkerondersteuners oor sy lojaliteit sê as Portugal teen Engeland in die Wêreldbeker speel (soos hulle wel Saterdag gaan doen)?

Hy kon dit eenvoudig nie doen nie, sê Scolari. As hy ’n span afrig, dan doen hy dit met die verstandhouding dat sy span en hul ondersteuners presies weet waar hulle met hom staan.

“So iets mag miskien aanvaarbaar wees in Europa, maar ek kom van Brasilië en in Brasilië doen ons dit nie so nie.”

Daar het jy dit, Jake White.

Ja, jy is miskien reg. Om ’n rugbyspan af te rig is ’n werk. En ’n mens moet seker enige ambisieuse beroepsman die geleentheid gee om sy eie loopbaan ten beste te beplan.

Die enigste probleem is, soos Groot Phil Scolari so mooi illustreer: Die afrigter van ’n land se nasionale span is nie ’n pakker by Pick ’n Pay wat kan kom en gaan soos hy wil nie.

As afrigter van die Springbokspan het jy nie net ’n verantwoordelikheid teenoor jouself en jou eie bankbalans nie.

Ons, die ondersteuners, soek as afrigter iemand wie se lojaliteit bo alle verdenking is.

Die berigte verlede Saterdag sê ongelukkig nie wie dit is wat so angstig is om White ’n joppie aan te bied nie. Die Australiërs miskien? Die Argentyne? Die Walliesers wat deesdae kwaai sukkel om ’n afrigter te kry en te behou?

Wat gebeur as die moontlike werkgewer dieselfde span is wat teen die Springbokke in die halfeindstryd van volgende jaar se Wêreldbeker in Frankryk te staan kom?

Ek dink White kan gerus ’n blaadjie uit Groot Phil Scolari se boekie neem en vir eers vergeet van al hierdie “aanloklike aanbiedinge” op sy lessenaar.

Konsentreer eers op jou werk en wen vir ons die Drienasies en dan die Wêreldbeker.

Want ek belowe jou, Jake, as jy daardie goue beker gewen het, gaan jy baie, baie meer werd wees as nou.

Dan kan jy na hartelus deur al die aanloklike aanbiedinge op jou lessenaar sif in die wete dat jy ’n paar nulle by elkeen van hulle se bottom line kan las.

En dan is SA Rugby – en ons as Springbokondersteuners – in ’n baie beter posisie om te bepaal presies wat ons in jou het en hoeveel jy werklik vir ons werd is.

No comments: