21 June 2006

Hoe beledig mens ’n Engelsman?

Dit is vir ’n vreemdeling in Engeland ontmoontlik om die Engelse te beledig.

En glo my, dit is nie omdat die uitlanders wat hier bly so ordentlik is dat hulle nooit hul gashere sal kritiseer nie – inteendeel. Buitelanders spot en beledig graag die Engelse – met goeie rede ook, want die Engelse maak dan daarna!

Die probleem is egter dat enige buitestaander se kritiek of spot oor die Engelse se eiesoortige manier van doen totaal oneffektief is.

Die rede hiervoor is eenvoudig. Niks wat enige vreemdeling ooit oor die Engelse kan sê is meer bitsig, beledigend of bytend as dít wat die Engelse reeds oor hul mede landgenote kwytgeraak het nie.

Kritiek in al sy vorme – van ernstige polemiek tot satire – is die lewensbloed van die Engelse samelewing. Om Engels te wees beteken om jou kop omhoog te hou, maak nie saak wat ander van jou dink of sê nie.

’n Boek oor Eton, die skool waarheen Engelse koningklikes en ander toffs gestuur word en waar hulle leer om nog meer onuitstaanbaar te word as wat hulle reeds is, het pas verskyn.

Die skrywer, Nick Fraser, wat self op Eton was, beskryf sy skoolmaats as “arrogant en eksklusief”. ’n Rubriekskrywer in die Independent borduur op die tema voort en skryf: “I have never met an Etonian who wasn’t an untrustworthy, mendacious, conniving creep.”

Ek kan aan baie lande dink waar ’n uitspraak soos hierdie genoeg rede vir ’n burgeroorlog sou wees. Wat sou gebeur het as ’n mens die woord “Etonian” in dié sin vervang het met Boishaaier? Om van Moslem of Zulu nie eers te praat nie. Die blote gedagte laat jou soek na die naaste bomskuiling.

In ’n land waar robuuste debat een van die hoekstene van die samelewing is, het oud-Etonians egter nie ’n oog geknip nie.

Moenie dink dit is net diegene aan die bokant van die rigiede Engelse klasseleer wat sulke kritiek hovaardig ignoreer nie.

Luister maar na die manier waarop die spot gedryf word met die Engelse chavs – jong meisies wat glo die toppunt van styl is om met pienk fluweel sweetpakbroeke en nagemaakte Burberry-handsakke op straat te verskyn.

Net soos die oud-Etonians bejeën chavs die stylpolisie se hoon met argwaan.

Moet dit nie heerlik wees om met die selfvertroue van ’n Engelsman deur die lewe te gaan nie?

Ek lees onlangs dat sokkergeesdriftiges wat Duitsland besoek vir die Wêreldbeker versoek word om nie hul Duitse gashere te terg oor hul Nazi-verlede nie.

Sulke ordentlikheid is mos loutere twak.

Dit laat my dink aan ’n toneel uit John Cleese se Fawlty Towers waarin die Duitse gaste die hoteleienaar Basil Fawlty herhaaldelik vra om op te hou om oor die oorlog te praat.

Die xenofobiese Basil steur hom glad nie daaraan nie en as die Duitser die soveelste keer vra: “Pleaze don’t menzion ze war”, kap Basil terug dat die gaste eerste daarmee begin het.

“Maar ons het nie daarmee begin nie,” skerm die Duitser. “Yes, you did,” snou Basil, “you invaded Poland.”

Net soos Basil Fawlty se Duitse gaste moet almal van ons leer om die misstappe van ons voorvaders te aanvaar en met die spot en kritiek saamleef.

Die ergste wat jy onder dié omstandighede kan doen, is om jou kop in ’n gat te druk en te maak of die ongelukkige verlede niks met jou te doen het nie.

Onthou julle nog vir Piet van Potch, die ou wat vier jaar gelede tydens ’n toets in Durban op die veld gehardloop het en die ref tot op ’n draagbaar geduik het?

Ek onthou destyds hoe mense die kop geskud het en bely het hoe skaam dit hulle gemaak het. “Nou gaan die wêreld se koerante weer skryf hoe common Suid-Afrikaners met hul groot bierpense is,” was die reaksie van vele.

Nou kyk, ek wil nie vir een oomblik Piet van Zyl se optrede van destyds goedpraat nie. Maar is ek skaam daaroor? Natuurlik nie.

Ek is net so min skaam oor Piet as wat die Engelse skaam is vir hulle kaalkop sokkerondersteuners wat besig is om Frankfort met hul lager-asems op horings te neem.

Deur die noodlot is ek en baie van die mense wat hierdie koerant lees ’n hand kaarte gedeel waarop staan dat ons, of die mense met wie ons assosieer, die mense is wat apartheid geïmplementeer en ondersteun het.

Soos die Duitse besoeker aan Fawlty Towers moet ons leer om daarmee verlief te neem.

Dit gaan waaragtig nie help om vir die res van ons lewens skaam-skaam rond te sluip en ure te spandeer om die res van die wêreld te probeer oortuig dat ons, om Jeanne Goosen se frase te gebruik, “nie almal so is nie”. Die feit dat ons nie almal so is (of was) nie, gaan beslis nie daardie aspek van ons geskiedenis ongedaan maak nie.

Ek hoor nie die Engelse heeldag ekskuus sê vir die konsentrasiekampe of ander gruweldade wat in die naam van die empaaier gepleeg is nie.

Kom ons leer liewer by die Engelse. Tel die kop op en vat geregverdige kritiek op die ken.

Want om die gasvryste mense op die planeet te wees, wat die lekkerste vleis kan braai, is niks om oor skaam te wees nie.

1 comment:

Openlik-Stroom-Op said...

Ja Pieter, klink my jy is ook maar wat my oupa sou noem 'n joiner, ek wonder Malan... ? mm Ons behoort te kan kyk, daar het mos 'n paar jaar terug ook daardie boek verskyn, wat sê wie nou eintlik die bitteruinders was.
Ek dink natuurlik die engelse is so "alles-aanvaarend" omdat hulle so agteraf is! Nie seker of daar enige iemand in die wêreld is wat weet waar hulle met 'n engelsman staan nie. Maar al die sal hulle sekerlik as 'n kompliment vat nê?!

Ai tog wanneer het ek so aanvalend geraak.
Lekker dag Piet, dalk praat ons weer.