24 May 2006

Wie het ’n Beatle nodig op 64?


Oor ’n paar Sondae van nou breek een van die belangrikste dae in onlangse Beatle-geskiedenis aan.

As jy wonder waarom die 18de Junie so ’n vername dag is, het jy duidelik nie onlangs na die belangrikste popalbum van alle tye – Sgt Pepper’s Lonely Hearts Club Band vir die oningeligtes – geluister nie.

Op daardie dag behoort die draaitafel in menige getroue Beatle aanhanger se huis afgestof en ingeprop word.

Dan sal die swart viniel van Sgt Pepper met seremonie uit sy veelkleurige omslag gehaal word en met ’n klam lappie afgevee word. En ons sal weer besef dat die aksie om ’n CD se skip knoppie te druk totdat jy by die verlangde song kom net nie dieselfde is as die konsentrasie wat dit verg om die naald bewerig neer te sit aan die begin van snit twee op kant twee van Sgt Pepper nie.

Nou behoort jy terug te sak in jou gunstelingstoel terwyl jy wag vir die speelse en oorbekende melodie.

When I get older

losing my hair,

many years from now.

Will you still be be sending me a Valentine,

birthday greetings, bottle of wine?

Binnekort sal jy jou bierbottel vir ’n mikrofoon aansien en lustig begin saamsing:

Will you still need me,

will you still feed me,

When I’m sixty-four?

Jip. Reg geraai.

Paul McCartney word op 18 Junie 64 jaar oud.

So wat doen ’n Beatle in sy sestigs?

Vroeër hierdie week staan ek by die Chelsea Blommeskou in Londen toe ’n kort mannetjie met ’n uniform wat nie onvanpas op Sgt Pepper se omslag sou wees nie, verbygemarsjeer kom – die bebaarde gesiggie met die donkerbrilletjie onmiskenbaar die van Ringo Starr.

Veertig jaar gelede het die sedebewakers hom en sy mede-Beatles se musiek as immoreel veroordeel. Ek wonder wat daardie dominees sal sê as hulle hom nou moet sien terwyl hy – net soos 170 000 ander Britse pensioentrekkers – besig is om hom te verlustig aan die pragtige blommetjies by die wêreld se grootste tuinbouskou.

Ringo en vroulief Barbara Bach se besoek aan Chelsea was natuurlik al jare gelede op Sgt Pepper voorspel – en ’n mens hoef nie eers die plaat agteruit te speel om die boodskap te verstaan nie.

Doing the garden,

digging the weeds,

who could ask for more?

En terwyl Ringo, soos die ware eksentrieke Engelse heer na die fraai blommetjies by Chelsea kyk, is die Rolling Stones se Keith Richards op ’n botaniese uitstappie van sy eie. Hy val uit ’n palmboom uit terwyl hy op Fiji vakansie hou.

Ek wil nou nie die jare-lange sluimerende oorlog tussen Beatles en Stones-aanhangers weer laat opvlam nie, maar as Keith met meer aandag na Sgt Pepper geluister was hy die harsingskudding op sy oudag gespaar.

You can knit a sweater by the fireside,

Sunday mornings, go for a ride.

Maar terug na McCartney, want ongelukkig eindig die storie nie daar nie.

Macca (soos die Britse tabloids hom noem) het onlangs aangekondig dat hy en sy jong bruid, Heather Mills, se paadjies na ’n huwelik van vier jaar gaan skei.

Die twee sê die “konstante media-aandag” het vir hulle huwelik te veel geword.

Dis natuurlik alles absolute twak.

Na meer as 40 jaar in die openbare oog (en ’n lang, suksesvolle en liefderyke huwelik met die eerste mevrou McCartney, die nimlike Linda) is Sir Paul sekerlik nou al gewoond aan die aandag.

Mev. McCartney II, ’n model wat haar been in ’n ongeluk verloor het en uitgesproke is oor sake soos landmyne, diereregte en die drink van melk (dis glo sleg vir jou), is ook geen vyand van die media nie – veral as dit háár pas.

Die Engelse poniekoerante beweer die ware rede vir me. Mills McCartney se ongelukkigheid is nie die konstante aandag nie, maar eerder die feit dat die wêreld meer geïnteresseerd is in mnr. McCartney as in haar.

Nou wat het sy dan gedink? As jy met die grootste musikant sedert Beethoven trou moet jy bereid wees om soms tweede viool te speel.

Sir Paul se idee van ’n rustige oudag het ook blykbaar gebots met sy bruid se oorywerige skedule om die wêreld se aandag te probeer vestig op dinge soos landmyne en die jag van baba-robbe in die noorde van Kanada.

En, sê die skindertonge, is Macca in baie gevalle maar taamlik teësinnig ingesleep om aan hierdie kampanjes deel te neem.

Dis nie wat hy in gedagte gehad het toe hy amper veertig jaar gelede geskryf het:

I could be handy, mending the fuse,

when your lights have gone.

Nóg ’n storie het dit dat Heather eendag iets oor die radio gehoor het en aan Paul moes erken dat sy geen idee het wie dit is wat sing nie.

“O, dit?” het Macca skaam gesê. “Ag dis sommer vier outjies wat jare gelede nogal bekend was in Liverpool. Stem saam, die harmonieë klink nie te waffers nie.”

Miskien moet mens nie te hard op die girl wees nie. Sgt Pepper was immers al reeds sewe maande op die rak toe sy in Januarie 1968 gebore is.

Of nee wag. Dis geen verskoning nie. Almal – selfs Paul McCartney se vrou – behoort van die Lonely Hearts Club Band te weet.

As sy meer aandag in die klas gegee het sou sy ook nie so gekla het dat Sir Paul ’n bietjie suinig is en nie genoeg van sy R8 biljoen aan liefdadigheid wil weggee nie.

Hy het immers geskryf.

Every summer we can rent

a cottage in the Isle of Wight,

if it’s not to dear,

We shall scrimp and save.

So, as jy oor drie weke Macca se verjaarsdag vier met Sgt Pepper op die draaitafel, dink ’n bietjie aan die arme ou drommel.

Want op die vraag Will you still need me, will you still feed me, is daar vir ’n pensioentrekker soos hy net een antwoord.

Op 64? Nee.

No comments: