10 May 2006

Tony Blair is nie meer die meester van sy eie lot

’n Adjunkleier met ’n voorliefde vir jonger vroue. Die hoof van die regering wat vinnig besig is om beheer oor sy eie party te verloor…

As jy dink bogenoemde is ’n kriptiese opsomming van gebeure wat tans die Suid-Afrikaanse politieke toneel oorheers, dink weer.

Terwyl die meeste Suid-Afrikaners hierdie week die finale ontknoping van die Zuma-verkragtingsdrama in Johannesburg dopgehou het om te sien hoe dit die leierstryd binne die ANC gaan beïnvloed, het ’n ewe interessante leierskapstryd homs binne die Britse Arbeidersparty afgespeel.

Soos dikwels die geval is, is struweling binne ’n politieke party baie meer boeiend, uitmergelend en gewelddadig as die stryd tussen opposisiepartye.

Die dispuut binne die Britse Arbeidersparty oor die – op die oog af onskuldige – vraag oor wanneer Tony Blair as premier en leier van die party moet uittree, is ’n goeie voorbeeld hiervan.

Ten spyte van ’n politieke aanvoeling wat hom baie goed te staan gekom het in sy vroeë dae as leier van die Arbeiders is die wunderkind van die Britse politiek besig om sy touch te verloor.

Dit is ’n les wat Margaret Thatcher en PW Botha voor hom op die harde manier geleer het: Dit is onmoontlik vir ’n politieke leier om die draaiboek vir sy eie vertrek van die politieke verhoog te skryf. Daar is eenvoudig te veel mense wat graag daardie dag vir jou wil bederf. En om alles te kroon is dit mense uit jou eie politieke agterplaas.

Na die Arbeiders se powere vertoning in die plaaslike verkiesings tien dae gelede, toe hulle meer as 300 setels aan die Konserwatiewe Party afgestaan het, is die lang messe nou behoorlik uit.

Die politieke les vir Blair is so oud soos politiek self: As die storm op die oop see woed en die skip begin disintegreer, vra niemand wie die kiel gelê het nie. Hulle blameer die kaptein.

Dis presies wat nou met Blair gebeur – ten spyte van die feit dat baie ander mede-verantwoordelikheid vir die Arbeiders se huidige probleme moet dra.

John Prescott , die adjunkpremier wat ’n paar dae voor die verkiesing met sy broek op sy enkels gevang is toe ’n poniekoerant onthul het dat hy ’n verhouding met een van sy sekretaresses gehad het, moet sekerlik ’n deel van die blaam dra.

Nog ’n onthulling, dat meer as ’n 1000 immigrante-gevangenes wat gedeporteer moes word nadat hulle hul vonnisse uitgedien het in die strate van Engeland vrygelaat is om verder te roof en te moor, was miskien die laaste strooi in menige kieser se gemoed.

Soos dikwels die geval is as jy ’n hopelose situasie probeer regdokter, was Blair se reaksie op die verkiesingsuitslae ’n totale mislukking.

In ’n desperate poging om die aandag van die swak vertoning af te trek, kondig hy die dag na die verkiesing ’n kabinetskommeling aan. Charles Clarke, die minister van binnelandse sake verantwoordelik vir die fiasko rondom die vrylating van gevangenes, kry die trekpas.

Prescott aan die ander kant, behou sy pos, maar verloor die meeste van sy verantwoordelikhede.

Van die Britse belastingbetaler word dus verwag om ’n man te onderhou met bitter min om te doen en wat boonop ’n voorliefde vir die jong sekretaresses in sy kantoor het. Soos een poniekoerant dit gestel het: “Now we are all screwed.”

Selfs Blair se eie party was siedend. Baie van die meer radikale Arbeiders het dit gou duidelik gemaak dat hulle met niks minder as Blair se kop op ’n skinkbord tevrede sou wees nie.

Tot voor die verkiesingsfiasko het Blair volgehou dat hy sy volle derde termyn as premier sal deursien. Vir baie lede van die Arbeiderkoukus was dit nie meer goed genoeg nie. Hoe gouer Blair die leisels aan sy gesalfde – die minister van finansies Gordon Brown – oorhandig, hoe beter.

Blair-ondersteuners was gou uit die blokke met ’n offensief van hul eie. Hul hoof-woordvoerder, John Reid, die man wat pas aangestel is as nuwe minister van binnelandse sake, het gesê die anti-Blariete hunker na die dae van ou Arbeidersparty.

“So ’n party het geen hoop om ooit weer ’n verkiesing te wen nie,” het hy gesê in ’n beswaarlik bedekte skimp na enigeen wat Blair se nalatenskap van ’n “nuwe Arbeidersparty” ongedaan wil maak.

Die bepalende oomblik in dié stryd was klaarblyklik Dinsdag tydens ’n vergadering van die Arbeiderskoukus.

“Na die vergadering het Blair geweet hy is nie meer die meester van sy eie lot nie,” het The Times na afloop daarvan geskryf.

’n Senior partylid het blykbaar aan Blair en Brown gesê: “As julle nie die (kwessie van ’n magsoorhandiging tussen julle) uitsorteer nie, sal daar wel ’n stabiele en ordelike oordrag van mag wees: van die Arbeiders na die Tories.”

Dit was, volgens nog ’n waarnemer, die mees volgehoue kritiek wat Blair nog ooit as eerste minister van sy eie party moes verduur.

Die uiteinde van die vergadering was dat hy moes belowe om as premier te bedank op ’n tydstip wat aan Brown “oorgenoeg tyd” sal laat om voor te berei vir die volgende algemene verkiesing (wat waarskynlik in 2008 gehou sal word).

Oor wat dit in praktyk beteken is die meeste Arbeiders en politieke kommentators eens: Gordon Brown sal voor die einde van volgende jaar die eerste minister van Brittanje wees.

Of dit hom genoeg tyd sal laat om ’n stadig lekkende Arbeiderskip te lap, sal net die tyd leer.

No comments: