12 April 2006

Vlieg jy na Domodedovo? Los dan die Klipdrift by die huis...

Mense wat vreeslik kla en kerm oor die inbreuk wat geslotebaan televisie kameras en ander veiligheidsmaatreëls op hul privaatheid het, laat my koud.

Gelukkig is die kla-brigade nie vreeslik lawaaierig in Suid-Afrika nie - ek sou dink dat die meerderheid Suid-Afrikaners maar net te dankbaar sal wees vir enigiets wat hul omgewing veiliger sal maak.

Hier in Brittanje is daar gedurig 'n gedruis op die agtergrond van mense wat dit sien as 'n skending van hul privaatheid.

Self was ek nog altyd van mening dat daar veel erger dinge is om jou oor te bekommer. Op die oomblik is ek byvoorbeeld baie bekommerd oor die feit dat ek nie meer £2,50 in my beursie oor het vir 'n laatmiddag pint by my local, die Scarsdale Arms nie.

Ek glo as jy nie op straat afgeneem wil wees nie, is jy waarskynlik besig met een of ander skelmstreek.

Of soos die beroemde New Yorkse fotograaf Diane Arbus een keer opgemerk het: "As jy nie afgeneem wil wees nie, moenie op straat kom nie." Arbus sou natuurlik so sê, sy het haar lewe gemaak deur vreemde mense op straat af te neem.

Die gesindheid beteken ook dat ek min begaan is oor die elektroniese trein- en buskaartjie in my beursie, al weet ek dat dit "die owerhede" in staat sal stel om my bewegings oor Londen heen te monitor.

Die feit dat die Londense polisie, terwyl hul tuur na hul televisiemonitors, teen hierdie tyd bewus is van die feit dat ek vanoggend vir ten minste 'n uur in Kensington se hoofstraat rondgedrentel het en by drie buitelewe winkels en 'n boekwinkel ingeloop het terwyl ek nie 'n sent op my naam het om enigiets daar te koop nie, skeel my min.

Werklikheidstelevisie hou 'n veel groter gevaar vir ons samelewing in as geslotebaantelevisie. My raad aan die menseregte-aktiviste was dus nog altyd: As julle oor iets wil betoog, betoog liewer teen Big Brother en Survivor.

'n Onlangse berig in die Daily Telegraph dwing my egter om my gelatenheid oor die saak in heroënskou te neem. Na dese is selfs ek bekommerd oor my privaatheid.

Volgens die berig gaan "die owerhede" in Rusland binnekort 'n "waarheidskontroleerder" by lughawens installeer wat sal kan vasstel of passassiers lieg as hulle gevra word of daar enige plofstof of dwelms in hul bagasie versteek is.

Die masjien, wat ontwikkel is deur die Israeli's, "kan selfs bepaal of die antwoorde (wat 'n mens gee) van die geheue of die verbeelding afkomstig is".

Ek vermoed dit beteken as iemand homself verbeel hy is Osama Bin Laden, het hy niks om te vrees nie. As jy George Bush is, maar intussen vergeet het, mag jy dalk probleme hê. Of dalk nie?

Volgens die berig skei die masjien die bona fide passassiers van die terroriste en smokkelaars deur jou reaksie op drie vrae te meet.

Die eerste (wat is jou naam?) en die derde (het jy enige wapens of dwelms in jou bagasie?) is redelik voor die handliggend. Ek voorsien nie dat ek in die nabye toekoms probleme sal hê om hierdie vrae eerlik en opreg te beantwoord nie - ongeag of ek op my geheue of verbeelding staatmaak in my respons.

Die tweede vraag is egter, soos die Telegraph dit stel, "angswekkend in sy Sowjet-bruuskheid". Dit lui: "Het jy al ooit vir die owerheid gelieg?"

Dit is net hier waar ek vassteek soos 'n Cats-speler wat met 'n rugbybal gekonfronteer word.

Ek vermoed die teenvraag, "Nou hoe bedoel meneer dan nou?" sal nie onder sulke omstandighede deug nie.

Jy sal dus bitter vinnig moet besluit of die gesprek tussen jou en die verkeersman so 'n jaar gelede net buite Potchefstroom genoeg rede is vir 'n eenvoudige ja op hierdie vraag.

Nou dat ek daaroor begin nadink is ek ook nie so seker of ek my belastingopgawe vir die 1998/99 belastingjaar met die Russiese lugvaartowerhede moet bespreek nie? Hoe verduidelik 'n mens aan 'n lang maer donker man in 'n vaalgrys pak dat sub-paragraaf (iv) van vraag 3 (e) na jou mening oop was vir redelike liberale interpretasie. Wel, oop was vir huhhhhh... 'n baie liberale interpretasie.

Hoe sê mens nou weer "interpretasie" in Russies?

Ek sien al hersenskimme van koue Siberiese winters en doringdraad. Ek is klaar nie meer seker of ek te doen het met suiwer geheue of blote verbeelding nie.

Wat my skielik laat wonder, is die visioen van 'n Russies-Joodse waarheidskontroleerder feit of fiksie? So 'n blêddie masjien sal so met 'n mens se kop smokkel dat hulle bloot 'n ou hartmonitor in die lughaweterminaal sal kan neersit en almal sal hulle diepste hartsgeheime aan vreemdelinge van die KGB begin uitlap - om nie eers te praat van die ses bottels Klipdrift wat jy met jou saamsmokkel nie.

Daarom is ek nou van mening hoe gouer die Verenigde Nasies, die Wêreldhof en Stellenbosch Farmer's Winery begin kapsie maak teen hierdie inbreuk op 'n mens se privaatheid, hoe beter. So kan dinge nie langer aangaan nie.

Intussen sal ek enigeen aanraai om Moskou se Domodedovo Lughawe te vermy - in elk geval tot tyd en wyl jy die gesprek tussen jou en die Potchefstroomse verkeersman baie goed deurdink het. Om van jou belastingopgawe twee jaar gelede nie eers te praat nie.

En o ja, 'n laaste ding. As jy dan Domodedovo toe móét vlieg, los om vadersnaam die Klipdrift by die huis.

No comments: