05 April 2006

Om 'n man op sy baadjie te takseer

In Engeland word 'n mens nog baie maklik op jou baadjie getakseer.

Dit kos so 'n paar maande in die Britse hoofstad om te besef hoe baie anders dinge in Suid-Afrika gedoen word - veral wat ons kleregewoontes betref. En hoe baie dinge in die laaste paar jaar in Suid-Afrika verander het.

'n Paar jaar gelede het die redakteur by die koerant waar ek as 'n jong verslaggewer begin werk het 'n mens nog oor die vingers getik as jy sonder 'n das en 'n baadjie kom werk het. Hy het toe reeds 'n verlore stryd gestry, want ons jongelinge het hom om elke hoek en draai probeer verneuk.

Ek het dit toe gesê en hou steeds by my storie: Dit is onmenslik wreed om 'n jong man op 'n warm Kaapse somersdag met baadjie en das Clifton toe te stuur om foto's te gaan neem van mooi meisies wat in die son bak.

Ek weet nie of Andrew Drysdale - my redakteur van destyds - uiteindelik self die onmenslikheid van sy reglement besef het nie, maar baie gou het dit moontlik geword om straffeloos en dasloos in The Argus se nuuskamer rond te loop, solank jy 'n das in die boonste laai van jou lessenaar gehad het vir 'n noodgeval. En 'n noodgeval is gewoonlik gedefinieer as: "Die redakteur soek jou in sy kantoor."

Om jeans werk toe te dra was natuurlik 'n ander storie - dit was 'n bietjie moeilik om ook 'n "netjiese" broek in jou boonste laai te hou. So dit was eers nadat Drysdale se opvolger self met 'n paar denims by die werk opgedaag het, dat daardie reël in die stof gebyt het. Vandag sal ek verbaas wees as enige jong verslaggewer steeds 'n das in sy laai hou vir 'n "noodgeval".

Ek is aan hierdie "das-in-die-laai" gewoonte herinner tydens 'n onlangse besoek aan 'n opregte Engelse "gentleman's club" in Londen.

Die Cavalry and Guards Club, met hul klubhuis by nommer 27 Piccadilly, is 'n vreeslike grênd affêre.

As jy dit hoegenaamd regkry om, soos ek, verby die deurman te sluip sonder dat hy jou eers goed deurkyk, sal jy gewis rens jou rieme styfloop.

Op pad na die kroegarea (waar terloops geen vrouens toegelaat word nie) bekruip 'n stem uit die hoek my.

"Excuse me."

Nou in Engeland praat hulle, ongeag wat enigeen al in die verlede aan jou probeer wysmaak het, nie net een taal nie. Hulle praat 'n klomp. Almal Engels, maar nie almal dieselfde Engels nie.

Engelse sinne wat met "excuse me, but..." begin, voorspel gewoonlik moeilikheid. Ouens wat sulke Engels praat het gewoonlik sulke swart pakke aan met dun wit potloodstrepies. Daardie pakke is donkiejare al uit die mode in Suid-Afrika, maar hier dra hulle dit nog steeds.

Die ou wat nou met my praat is nog deftiger. Sy pak het nie sulke dun potloodstrepies nie. Dis sommer sulke dikkes, chalk stripes hoor ek die Engelse noem dit. Elkeen so 'n duim of wat uitmekaar uit.

Hier rond is hy dus 'n meneer. 'n Baie Belangrike Persoon. En hy se^: "Excuse me, but you are not allowed in here without a tie."

Hy wou nog iets byvoeg, maar teen daardie tyd staan ek al lankal in die voorportaal, te bang dat die strepiesmanne my nog verder met hulle skerp tonge oprof. Hierdie tipe Engels mag miskien vreeslik polite klink, maar vriendelik is dit beslis nie.

Buite in die portaal kom die deurwag egter tot my redding met 'n hand vol dasse, waaruit ek een kan kies om my toegang tot die klub te verseker.

Ek kies vir my 'n gawe das om by my jas te pas en ek sluit skaam-skaam by my geselskap aan terwyl ek die terugdink aan Drysdale en die dasse wat ons altyd in ons laaie gehou het.

Vir die eerste keer in my lewe wens ek dat ek vir ou Drysdale geluister het. Hier staan ek in die Engelse heiligdom, vrek bang dat die manne in die strepiespakke my 'n tweede keer sal oplet. Want ek het 'n tweede van my voormalige redakteur se aantrekree"ls oortree: ek het 'n denimbroek aan.

En ek weet wat hierdie "excuse-me-engelse" daarvan gaan sê...

No comments: