15 March 2006

Vergifnis is nie vir Sissies nie

Ek wil nie eers begin om te vertel wat my alles onderkry van die moderne lewe nie. Niemand is tog lus vir 'n gesanik nie.

Laat my egter toe om oor een een gehate onderwerp meer te vertel: die hedendaagse versugting na die perfekte.

Perfekte mense lewe perfekte lewens, dra perfekte klere en stoot hul perfekte babatjies in perfekte stootkarretjies rond.

Soos enige advertensie op televisie vanaand aan jou sal vertel, kan enigiemand perfek wees - jy moet net dit wat die pefekte jong dame in die reklameflits aan jou oordra, perfek nadoen. Sit jou hand in jou sak en haal uit jou beursie, is altyd die verswygde boodskap van enige oproep tot kitsperfeksie.

Daarna spuit jy net 'n bietjie van hierdie wonderwater onder jou sweterige armholtes en voila. En as niks anders help nie, sit ons jou onder die mes. Die kosmetiese snydokter is die 21ste eeu se grootste smous in perfeksie.

Televisiekameras - om die waarheid te se^ enige kamera - is absoluut verslaaf aan perfeksie. Perfeksie en die kamera is vir mekaar gemaak soos Hollywood gemaak is vir 'n gelukkige einde.

Perfeksie is orals. Daar is geen plek waar iemand wat salig onperfek wil wees meer kan skuil nie.

Een van die dinge wat my werklik onderkry is die manier waarop godsdiens ook 'n slaaf geword het van hierdie soeke na perfeksie.

My stelling is miskien 'n bietjie onregverdig, gegee dat die meeste gelowe die strewe na die perfekte, 'n hiernamaals ver van die smart en swaarkry van 'n onperfekte lewe, as vertrekpunt neem.

Die gemak waarmee baie godsdienste (of moet ek se^ gelowiges?) egter aanneem dat hemel op aarde moontlik is, en hoe eenvoudig dit is, stuit my teen die bors.

Vat jou lewe 'n wobble? Gaan dinge 'n bietjie rof? Moenie stres nie: 'n Vinnige gebedjie en 'n psalm en jy is een, twee, drie weer pure perd.

Die waarheid is dat die lewe gereeld redelik nare goed na jou kant toe slinger. En Christelike begrippe soos liefde, geloof, hoop en vergifnis laat hulle nie sommer op die agterkant van 'n boekmerk definieer nie. Veral as jy nog plek moet los vir 'n prentjie van 'n bossie pienk rose.

Dit is daarom dat 'n nuusstorie wat onlangs hier in Engeland groot belangstelling ontlok het, my so aangegryp het.

Dit handel oor 'n vroulike predikant wat uit haar amp bedank het omdat sy dit ontmoontlik vind om die bomplanters te vergeef wat haar dogter vermoor het.

Julie Nicholson se dogter Jenny, was een van meer as 50 mense wat dood is tydens die selfmoordbomaanvalle in Londen op 7 Julie verlede jaar. Julie worstel nou al maande lank met die haat wat sy vir die selfmoord bomplanter, Mohammed Sidique Khan, koester. Vroee"r die maand het sy besluit dat haar haat nie versoenbaar is met haar amp in die Anglikaanse kerk nie, en bedank.

Sy se^ sy herhaal Khan se naam elke dag met bitterheid.

"Ek is woedend oor die feit dat 'n mens kan kies om 'n ander mens se lewe te neem. Ek is woedend dat iemand dit in die naam van 'n god kan doen. Ek vind dit uiters aanstootlik," het sy luidens een koerantonderhoud gese^.

"Kan ek hulle vergeef vir wat hulle gedoen het? Nee, ek kan nie. En ek wil ook nie."

Sy het daarom bedank as predikant van haar gemeente in Bristol omdat sy dit moeilik vind om die boodskap van vrede en versoening aan mense te bring terwyl sy dit self nie kan uitleef nie.

"As iemand vir my kan se^ dat my vermoe" om Jenny se moordenaar te vergeef 'n einde sal bring aan geweld, dan sal ek moontlik die moed kan vind om dit te doen. Maar ek is nie in my hart oortuig dat ek dit glo nie."

Sy se^ sy dit beteken nie dat sy opgehou het om 'n Christen te wees nie.

"Dit mag nie iets wees wat ek kan hanteer in hierdie lewe nie, maar dit beteken nie ek is nie 'n Christen nie."

Harde woorde, maar dit laat mens dink.

Hoe vergeef mens iemand wat jou kind vermoor het? Iemand wat haar waarskynlik daardie oggend in die oe" gekyk het en gese^ het: "Ek ken nie jou naam nie. Ek wil nie eers jou geld he^ nie, maar vandag gaan jy sterf."

Hoe begin jy om daardie wroeging te deurgrond as jy dit nog nie self beleef het nie?

Daar is egter nog 'n element van Nicholson se persoonlike pelgrimstog wat ek aangrypend vind: Die feit dat sy haar geloof so ernstig opneem dat sy uit haar amp bedank het.

Anne Atkins, 'n rubriekskrywer in die Daily Telegraph, som dit perfek op as sy skryf: "Occasionally - very occassionally, alas - one hears of someone who takes a stand so brave, so honest or so principled that it gives the rest of us strength and hope to carry on."

Dit is 'n verhaal van hoop vir die res van ons wat sukkel om in 'n perfekte we^reld ons koppe hoog te hou terwyl ons daagliks deur tydskrifte, koerante en televisie herinner word watter onaantreklike wurms ons werklik is.

'n Mens kan faal om die Christelike ideaal van vergifnis uit te lewe maar, soos Nicholson, steeds vasklou aan jou Christelike beginsels.

Haar verhaal laat jou ook besef watter ongelooflike pad van innerlike stryd iemand wat dit wel regkry om sulke afgryslikhede te vergeet en te vergewe moet bewandel voordat hy of sy by daardie punt uitkom.

Vergewe en vergeet is twee woorde wat maklik van die tong afrol, maar ware vergifnis is nie vir sissies nie.

No comments: