29 March 2006

Sinatra is soveel beter in 'n ouer lyf

Die lewe hier in Londen kan taamlik oordadig wees vir 'n Suid-Afrikaner wat op die kulturele ekwivalent van droe" brood en water grootgeword het.

So oorvloedig dat mens moet bietjie-bietjie proe om te keer dat jy binne 'n paar weke met 'n akute kultuur babbelas sit.

En hier praat ons nie net van hogere kultuur soos opera, beeldende kuns en ernstige teater nie.

Vir 'n filistyn, soos die uwe, is daar ook genoeg om van te smul.

Dis waarom dit goed is om so af en toe te ontspan met 'n bietjie kulturele kougom - iets wat nie te ernstig is nie en wat die siel darem 'n bietjie rus gee tussen al die uitdaging.

Met die in gedagte sit ek 'n paar dae gelede af na die weseinde vir 'n vertoning van Sinatra at the London Palladium.

Gedink 'Ole Blue Eyes is vergete al dood? Watwou. Met die hulp van moderne tegnologie is hy springlewendig.

Die vertoning volg 'n interessante konsep: Alles wat jy sien is regtig egtig. Die doobie-doobie meisies het regtige egtige lang bene en hul dans op die maat van 'n regtig egtige orkes wat die hele verhoog volsit.

Dis net die hoofattraksie, ou Frank homself, wat nie daar is nie. Sy beeld word geprojekteer op 'n silwerdoek - drie, vier keer lewensgroot - vanwaar hy sing en ook so 'n bietjie oor sy eie lewe vertel.

Alles historiese opnames wat onder hande geneem is deur digitale restoureerders wat Frank se stem van die bande gelig het sodat hy weer alleen saam met 'n werklike orkes kan sing.

'n Mens kan maar net telkens jou hande saamslaan oor al die truuks en soos die ou oom van my kinderjare in ongeloof prewel: "Hel, die Engelse is darem maar 'n slim klomp mense."

As jy my egter vra om die hele spulletjie krities te beoordeel moet ek eerlik se^: ek dink slim het hier sy baas gevang.

'n Mens voel telkens so bietjie gekul - kompleet asof jy 'n halwe dag in die warm son gestaan het om vir Nelson Mandela te sien, toe daag Thabo Mbeki op. Of kaartjies gekoop het vir die Rolling Stones, toe sing die Campbells.

Die bottom line is, 'n swart en wit fliek van Frank Sinatra wat sing (al is dit saam met 'n regtige orkes) bly net dit - 'n swart en wit fliek van Frank Sinatra. Geen hoeveelheid digitale sny en plak en asemrowende langbeenmeisies gaan dit verander nie.

Alles was natuurlik nie net sleg nie en die Sinatra ervaring het tog stof tot nadenke gelaat - 'n besef van 'n teenstrydigheid in die Sinatra persona waarvan ek nie voorheen bewus was nie.

Waarom is dit dat die tweede helfte van die vertoning, met 'n ouer Sinatra, soveel meer kykbaar is as die eerste?

'n Interessante fenomeen, siende dat Sinatra se stem bitter min oor die jare verander het. Hoeveel Sinatra aanhangers ken jy wat, deur bloot na 'n opname te luister, vir jou kan se^ of dit 'n ou of jong Sinatra is wat sing?

Van jongs af al was sy stem bykans volkome, insluitende daardie wonderbaarlike Sinatra tydsbereking - 'n eienskap wat U2 se Bono laat opmerk het: "Sinatra does not sing on the beat, but over it".

Selfvertroue? Hy't dit altyd gehad. Of hy 29 of 59 is, Sinatra het styl. Die onbesproke baas van die plaas. Die nek van die plek.

Tog is die ouer Sinatra net beter. Daar is meer van hom - so asof die stem en die houding en die selfvertroue, alles wat altyd daar was net beter in die ouer lyf pas. Asof hy in sy eie lyf ingegroei het.

Dit is alles natuurlik ongelooflike slegte nuus vir die korporatiewe meneertjies en mejuffroutjies - daardie twintig-en-iets bestuurdertjies in vrek senior posisies met groot salarisse wat op 'n jeugdige ouderdom in afdelings ver bo hulle eie gewigsklas probeer boks. Die Engelse het so 'n mooi woord vir hulle - wippersnappers.

Tot kort voor my aandjie in die Palladium saam met Frank was ek altyd bietjie snedig oor die ventjies. Ook seker bietjie jaloers, miskien, weens die feit dat hulIe - met minder as die helfte veldslagmedaljes as hul onderdane, nou die troepe probeer aanvoer.

Nadat ek vir Sinatra op doek gesien het voel ek selfs so bietjie jammer vir hulle.

Nou besef jy hoe moeilik dit moet wees om die stem en die selfvertroue en die tydsberekening te he^ terwyl die belangrikste bestandeel, die magic, net nie daar is nie.

En hoe hard jy ookal probeer, daar is niks wat jy daaraan kan doen nie. Al wat jy kan doen is geduldig wag in die hoop dat jy meer en meer in jou posisie sal ingroei soos die jare aanstap.

Dis natuurlik as jy gelukkig is en, soos Sinatra, lank genoeg kan uithou totdat talent, houding, lyf en die ouderdom uiteindelik 'n gelukkige ewewig bereik.

Seker dan ook waarom, toe hy uiteindelik daar kom, hy daardie stoel so volkome en stewig vol gesit het, sonder enige gelyke.

Onbetwisbaar die chairman of the board tot die dag van sy dood.

1 comment:

Anonymous said...

Hi
live chat
Good job.....thanks.....Must be a reason to find friends in your area! Try my page....
G'night