02 March 2006

'n Nasie van vrot winkeleienaars

Ek ontmoet verlede week 'n Sweedse joernalis, Caspar Opitz, tydens 'n besoek aan die Britse parlemente^re kompleks by Westminster.
Ons is daar vir 'n bekendstellingstoer van die Britse hoe"r- en laerhuis en om 'n paar Britse parlementslede te ontmoet.
Op die dag van ons besoek ruik die lug in die statige ou gebou na buskruit - gelukkig die politieke soort, nie die tipe wat selfmoordbomaanvallers rondom hul middellywe vasbind nie.
Dis die soort atmosfeer wat in parlementsgeboue regoor die we^reld heers ten tyde van politieke drama. 'n Gefluister in die gange en angskrete wat hol uit kelderverdiepings weergalm terwyl nog 'n politieke opponent by wyse van spreke keelaf gesny word.
Die rede vir die opgewondenheid in Westminster was die feit dat Tony Blair se Arbeiders die vorige aand twee keer na mekaar tydens 'n stemming in die laerhuis verslaan is.
Dit beteken natuurlik glad nie dat die Brittanje soos ons dit ken onherroeplik gaan verander nie. 'n Ander eienskap van parlemente dwarsdeur die demokratiese we^reld is dat politiek gevegte net belangrik is vir die mense wat daaraan deelneem. Buite op die sypaadjie voor Big Ben is die lug net gevul met die reuk van grondboontjies gedoop in warm karamel - die stapelvoedsel van toeriste wat dit waag om in die koue maande die Britse hoofstad te besoek.
Terwyl die hele kompleks rondom ons gons en elke parlementslid wat ons ontmoet nie kan wag om haar weergawe van gebeure met ons te deel nie, gesels ek en Caspar egter oor veel belangriker dinge. Die dinge wat gewone mense partykeer laat wens dat hulle 'n pakkie buskruit byderhand het...
Soos ek, het Caspar pas in Londen aangeland.
"So, het jy al alles gedoen wat nodig is om jou kantoor hier in Londen aan die gang te kry?" vra Caspar. "Het jy al 'n selfoon? Is jou internetkonneksie in orde?"
Ek rol my oe" in 'n woordelose gebaar, genoeg vir Caspar om te reageer.
"Is dit nie verskriklik nie?" vra hy.
"En ek het gedink ek kom bly in 'n eerstewe^reldse land," se^ ek.
Binne 'n gesprek van enkele sekondes raak Caspar my beste vriend in Londen. Uiteindelik het ek iemand met wie ek my frustrasie kan deel oor die skouer-optrekkende afsydigheid wat die meeste Londense winkelassistente en amptenare as goeie diens beskou.
Uitlanders, soos ek en my vriend Caspar, is nie die enigste mense wat kla oor die misrabele diens wat jy in die Hoofstraat kry nie.
'n Rubriekskrywer in die Daily Mail skryf onlangs dat dit Napoleon is wat gese^ het dat die Britte 'n nasie van winkeleienaars is. Hy gaan egter voort: "Wat Napoleon nagelaat het om te se^, is dat ons 'n nasie van besondere swak winkeleienaars is."
Die gemiddelde winkelassistent in Londen is klaarblyklik daar om die prys van die item wat jy van die rak geneem het te skandeer, jou geld te neem en die paar pennies kleingeld aan jou te oorhandig. Niks meer nie.
Jy mag niks bevraagteken nie, is die eerste gebod om te oorleef as Britse verbruiker. En die tweede en belangrikste: Moet nie 'n bank betree nie. Dit kan ernstige gevolge vir jou gesondheid inhou.
Van gesondheid gepraat: Die Britte kla steen en been oor hulle nasionale gesondheidstelsel, die NHS. Dit blyk egter dat beide ek en Caspar net goeie herinneringe van ons besoek aan ons onderskeie NHS-klinieke gehad het. Vriendelik, innemend, beleef en effektief. Alles wat die besoek aan die plaaslike hardewarewinkel nie was nie.
Vreemd dat die Britte veel meer krities is oor die diens wat hulle van hul regering kry as van hul kruidenier.
Van hulle bankier verwag hulle blykbaar heeltemal niks.
Ek het altyd gedink dat Suid-Afrikaanse banke onder die slegste finansie"le instellings ter we^reld moet tel. Dat hulle, met enkele uitsonderings na, daarop uit is om jou geld op allerhande onderduimse maniere - meestal vermom as bankkoste - vas te le^. En om alles te kroon is hulle nog ongeskik en onbehulpsaam ook.
Na twee maande in Londen het ek my deuntjie verander. Ek dink steeds Suid-Afrikaanse bankkoste is buitensporig, maar ten minste glimlag hulle terwyl hulle jou geld vat.
Na meer as agt weke se gesukkel het my onderhandelinge met Lloyds Plc, een van Brittanje se grootste banke, om tekenregte te kry op 'n werkrekening te kry tot stilstand geknars. Geskrewe korrespondensie raak gerieflikheidshalwe weg. Telefoonoproepe word deurgesit na die alomteenwoordige "oproepsentrum" waar gesiglose stemme die antwoord op jou vraag as 'n voorafgeskrewe rympie van 'n rekenaarskerm af herhaal. Op die vraag "wat het geword van persoonlike diens?" het die rekenaar geen antwoord nie.
Amptenare by die tak het, net soos die meeste winkelassistente, 'n kursus bygewoon waar hulle geleer is om moeilike klie"nte soos ek te hanteer. Hulle neem die heilige posisie in: Met palms na bo gedraai staar hulle met engelagtige gesiggie oor jou regterskouer na die horlosie teen die oorkantse muur terwyl hulle bid dat toemaaktyd vandag gouer moet kom. Onverstoord. Niks kan hulle oortuig dat die klie"nt, soos die beroemde spreuk dit wil he^, altyd reg is nie.
As ek 'n Absa-klie"nt was, het die nuus dat die Britse Barclays vir Absa oorgeneem het my snags in koue sweet laat rondrol uit vrees vir wat wag.
Op 'n onlangse besoek aan Barclays se tak in Knightsbridge word ek gehelp deur 'n vriendelike Afrikaanssprekende jong man, klaarblyklik gesekondeer van Absa na Barclays sodat hy by die Britte kan leer hoe die bankstelsel hier werk en, neem ek aan, sy nuutgevonde kennis in Suid-Afrika kan terugploeg.
Ongelukkig was ons gesprek baie vlugtig en kon ek hom nie uitvra oor die klie"ntedienshandboek wat hy besig was om op te swot nie. Ek kan egter net raai dat die eerste hoofstuk begin met die les: Hou op glimlag, hou jou palms na bo en wag vir toemaaktyd.

1 comment:

Pienk Zuit said...

Ek stem saam, Britse banke lewer sonder twyfel die swakste diens. Maar na 2 jaar terug in SA begin ek weer gatvol raak om vir alles te betaal. Dis moeilik, want ek is suinig, maar ek soek goeie diens ook. ABSA maak alles vir my maklik, maar ek betaal te veel daarvoor. Hoekom kan hulle nie net self geld maak met al my geld wat by hulle lĂȘ nie. Hulle gee my dan nie eens rerig rente nie! Maar hou vol met die vriendelike diens, dit waardeer ek darem.