30 January 2006

Up in smoke

Dit het my glad nie verbaas dat 'n Brit daarvan verdink word dat hy die verwoestende brand wat oor die naweek op Tafelberg gewoed het, begin het nie.
Vir diegene wat vergeet het (of nooit geweet het nie): Anthony Cooper, 'n 36-jarige verkoopsman van Brighton het in 'n Kaapse hof verskyn op aanklagte van brandstigting en strafbare manslag na die brand waarin nog 'n Britse toeris dood is. Iemand het na bewering gesien hoe Cooper 'n sigaret by sy motorvenster uitgooi en hoe die brand kort daarna in die omgewing begin.
Die ongeergde wyse waarop rokers van hul gedane stompies ontslae raak is natuurlik nie eie aan die Britte nie. Rokers regoor die we^reld - selfs mense wat andersins besonder beskaafd met hul rommel omgaan - gaan klaarblyklik van die standpunt uit dat daardie klein lelike stink filtertjie aan die einde van 'n sigaret nie vullis is nie. En omdat dit nie vullis is nie, kan jy dit gooi net waar jy wil.
Die meeste nie-rokers vermy gewoonlik rokers vanwee die borrels rook wat by hul monde en neusgate uitkom. Nie ek nie. Ek haat rokers vanwee hul morsige maniere. Ek's jammer. Dis net een van die dinge wat ek van my army dae af oorhou (soos my weiering om in 'n tou te staan vir kos). Die ure wat ek met chicken parades verkwis het terwyl ek en 'n peloton ander niks anders opgetel as stompies nie, het my vir ewig geskend.
Terug egter by Britse rokers: Behalwe vir die feit dat hulle, net soos ander rokers, nie weet wat om met hul stompies te doen nie, is Brittanje ook een van die laaste lande in die Westerse we^reld waar rokers se reg om hulself te vergiftig deur die wet beskerm word. (Dit is die skrale 30% van Britte wat rook, volgens die jongste statistieke).
In plaas daarvan dat rokers teen hulself beskerm word, moedig die Britse regering die bevolking aan om te rook deur hul weiering om rook in die openbaar te verbied.
Dit is dieselfde regering, asseblief, wat besig is om 'n wetsontwerp voor te berei wat dit onwettig sal maak om jou honds se stert af te sit - op die gronde dat dit wreed is.
Die Arbeidersregering wik en weeg nou reeds etlike maande (of is dit jare) met 'n stuk wetgewing wat wel rook in restaurante en pubs sal verbied, maar die weergawes en opsies wat die wetgewing toelaat het nou reeds deur soveel stadia en weergawes gegaan dat niemand meer weet wat die voorstelle eintlik behels nie.
Die vrae waarmee die wetgewers hulself uiteindelik gaan besig hou as die wet uiteindelik in Februarie ter tafel gele^ gaan word is dinge soos: Moet ons net rook verbied in pubs wat kos bedien? Wat van pubs wat middagete bedien maar nie aandete nie? Moet ons rook verbied in privaat "gentlemen clubs"? Wat van die armer dele van die dorp waar pubs nie kos bedien nie - beteken dit dat ons nie omgee as die armes hul dood rook nie?
So gaan hul argumenteer en tob en pieker. Dieselfde parlementslede wat binne enkele ure - of was dit minute - hul premier se halfgebakte plan om troepe na Irak te stuur, goedgekeur het.
Anthony Cooper het dus alle reg om verontwaardig te wees oor die feit dat 'n derde we^reldse landjie, 'n voormalige kolonie aan die suidpunt van Afrika, hom opsluit omdat hy rook.
Dit is sy godgegewe reg om te rook. Sy eie regering se^ so.
En om sy stompies te skiet waar hy wil is 'n reg gevestig deur miljoene rokers oor baie, baie jare.
Now put that in your pipe and smoke it.

1 comment:

Francois said...

Japan is nogal 'n interessante geval. Hulle rook nog veel erger as die Britte, en daar's veel minder kans dat hulle binnekort gaan stop.

Maar daarso betaal die tabakraad vir 'n hele reeks uitstekende plakkate wat rokers probeer etiket leer (sien ook die website.)

Wat ek interessant vind is die indruk wat dit gee van die Japanese psige, deur te fokus op bedagsaamheid, eerder as gesondheid of ander selfsugtige argumente.