18 January 2006

Sokkermal

Die wedstryd tussen Manchester United en Burton Albion word vanaand gespeel. Ek het verlede week vir Die Volksblad die volgende oor die wedstryd geskryf:

Kyk, ek is nou nie 'n ou wat heeltemal verskriklik over the top fanaties oor sport is nie.
Ek sal nou nie by 'n rugbywedstryd opdaag met horings op my kop of my sitkamer wit met blou strepe verf of net wit en goue onderbroeke dra nie. Maar soms is sport darem net so wonderlik heerlik en onverwags dat jy nie kan help om lofsange daaroor te sing nie.
'n Sokkerwedstryd hier in Brittanje in die dorp Burton-on-Trent, net noord van Birmingham, is 'n baie goeie voorbeeld hiervan. Dit gee mens sommer weer nuwe lus om op 'n Saterdag voor die televisie te gaan sit en jouself te ooreet aan 'n sportdieet - of nog beter, om 'n kaartjie te koop en self af te sit na jou plaaslike stadion. Al het jou span laas met die runderpes 'n wedstryd gewen.
Die rede waarom ek skielik so opgewonde oor sport is, is die feit dat een van die we^reld se grootste klubspanne, Manchester United, verlede naweek teen 'n span 104 plekke laer af op die sokkerleer vasgeval en gelykop gespeel het.
Voor Sondag was Burton-on-Trent slegs bekend as die dorp waar hulle Bovril maak. Nou is dit op almal se lippe as die tuisdorp van 'n span wat die magtig duiwels rooi van skaamte gelaat het.
Waarom dan so opgewonde oor 'n gelykop uitslag?
Dis moeilik om dit te beskryf - kom ons se^ maar dis soos vir die Vrystaat om die Curriebeker te wen. Met die vergelyking wil ek allermins vir Rassie Erasmus en sy dapper krygers beledig.
Maar kom ons wees eerlik - die FA Cup is nie die Curriebeker nie en in die we^reld van voetbal (soos die Engelse die sport noem wat ons as sokker ken) is Manchester United god.
Daar is nog 'n ooreenkoms tussen ons onlangse rugbygeskiedenis en die FA Cup. Net soos 'n sekere rugbyspannetjie doer in die omgewing van die Apiesrivier, glo Manchester United ook soms dat hulle net hoef op te daag vir 'n wedstryd om te wen.
Die vreugde is daarom dubbeld so groot as 'n groot professionele span soos United teen 'n klomp semi-amateurs verloor - 'n gebeurtenis wat ongelukkig in die era van professionele sport al hoe skaarser word.
Kyk net bietjie na die syfers: Twee United spelers, Wayne Rooney en Cristiano Ronaldo, verdien ses keer meer as wat Burton Albion se nuwe stadion gekos het.
Hulle salaristjek vir 'n week is meer as wat Burton se spelers in 'n jaar uit sokker verdien.
Burton se kaptein, Darren Stride, is 'n bouer wat werk kombineer met sy groot liefde - sokker. Hy se^ Vrydae vat hy dit net 'n bietjie kalmer by die werk sodat hy reg kan wees vir Saterdag se game.
Die meeste van sy spanmaats is spelers wat deur groter klubs die deur gewys is omdat hulle nie goed genoeg is nie en na Burton gekom het om hulle selfvertroue te herwin.
Die klub se speler/bestuurder, Nigel Clough, kom uit 'n legendaries Engelse sokkerfamilie en het op sy dag vir Engeland gespeel. Hy kan self 'n baie beter pos by 'n groter klub kry, maar bly by Burton omdat hy meer tyd met sy gesin kan deurbring.
Voor Sondag se wedstryd het hy aan die Sondagkoerante gese^: "Ek staan soggens op om my kinders by die skool af te laai en middae gaan haal ek hulle weer. Wat die Manchester United wedstryd ookal beteken, kan dit nooit soveel plesier bring nie."
Sondagoggend was Burton Albion se grootste vrees dat Manchester met hulle die vloer sou vee voor 'n televisiegehoor van miljoene. Dat elke foutjie, elke doel, 'n duisend keer in stadige aksie herhaal sal word.
Teen halftyd was dit duidelik dat dit nie sou gebeur nie. Dit was eerder Sir Alex Ferguson, die rooies se bestuurder, wat bekommerd begin lyk het terwyl die Man United ondersteuners begin dreunsing: "Fergie, Fergie, sort it out".
Selfs sy multi-miljoen rand plaasvervangers, Rooney en Ronaldo, kon hom nie red nie.
Want soos Rassie en sy dapper krygers goed weet - 'n vet beursie is geen antwoord vir passie nie.

No comments: